‘n Lasbrief en my regte

29 June 2017 1642

"‘n Polisiebeampte het onlangs aan my deur geklop en my aangesê dat hy my huis wil deursoek aangesien hulle ‘n wenk ontvang het van gesteelde goedere wat in my huis gestoor word. Toe ek weier, sê hy hy gaan terugkom met ‘n lasbrief. Wat maak ek dan? Het hy dan die reg om my huis te deursoek?"

Ons reg maak voorsiening vir polisie deursoekingprosedures waar die doel van die soektog is om ‘n spesifieke persoon te vind of ‘n voorwerp in beslag te neem  wat verwant is aan die pleging of waarskynlike pleging van ‘n misdryf. Dus gee ‘n behoorlik uitgereikte visenteringslasbrief – hetsy (voor ‘n kriminele verhoor) deur ‘n landdros of vrederegter, of (tydens ‘n kriminele verhoor) deur ‘n regter of voorsittende beampte wat die kriminele verrigtinge aanhoor - ‘n polisiebeampte die mag om beslag te lê op ‘n artikel en enige persoon te deursoek wat in die lasbrief geïdentifiseer word, of enige perseel daarin geïdentifiseer te betree of deursoek, en ook om enige persoon op die perseel te deursoek. 

‘n Deursoeking gemagtig deur ‘n visenteringslasbrief moet egter uitgevoer word gedurende die dag, tensy the persoon wat die lasbrief uitreik skriftelik magtiging gee dat die soektog in die aand plaasvind. ‘n Lasbrief mag op enige dag uitgereik word en bly geldig totdat dit uitgevoer of gekanselleer is deur die persoon wat dit uitgereik het, of deur iemand met dieselfde gesag. 

Jy kan wel aandring daarop om ‘n afskrif van die lasbrief te kry nadat die soektog gedoen is, en dan moét die lasbrief aan jou, of enige persoon wie se regte geaffekteer is deur die soektog, oorhandig word.

Enige soektog uitgevoer in terme van ‘n lasbrief moet ook op ‘n ordelike en behoorlike wyse gedoen word. Waar die persoon wat deursoek word ‘n vrou is, moet ‘n vroulike polisiebeampte die soektog uitvoer.

‘n Polisiebeampte wat egter in stryd met die magtiging van ‘n uitgereikte visenteringslasbrief optree, of wat ‘n persoon of perseel deursoek of op ‘n artikel beslag lê sonder die nodig magtiging, maak homself skuldig aan ‘n misdryf. 

Dus, die volgende keer wat jy jou deur oopmaak en polisiebeamptes aantref wat vra vir toestemming om jou eiendom te deursoek: vra die polisiebeamptes om hulself te identifiseer, die redes te verskaf waarom hulle die perseel wil betree en deursoek, of hulle ‘n lasbrief het en vra ook vir ‘n afskrif daarvan. As hulle die nodige kan verskaf, mag hulle jou huis deursoek en kan jy hulle nie keer nie.

 

Tags: Law, Warrant
Share: