Jou eerste dagtaak op kantoor voordat jy met jou werk kan begin is om die magdom “spam” van jou inkomende eposse uit te vee wat oornag ingekom het. Om nie eers te praat van die onwelkome oproepe en sms’e van tele-bemarkers wat dienste aan jou wil smous van maatskappye wat jy nog nooit eers van gehoor het nie. En ironies genoeg, hierdie teistering begin dikwels kort nadat jy ‘n nuwe verbruikerskontrak gesluit het waarin jy spesifiek versoek dat jy nie gekontak moet word vir bemarking nie! As hierdie situasie aan jou welbekend is mag jy verlig wees om te weet dat daar ‘n nuwe Wet oppad is wat besighede aan bande gaan lê wat ons persoonlike inligting na harte lus gebruik en verkoop sonder ons wete of toestemming.
Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting behoort in die nabye toekoms die lig te sien en is die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Een van die doelstellings van die Wet is om die wyse waarop persoonlike informasie geprosesseer en gestoor word te reguleer en om diegene te straf wat nie die Wet nakom nie.
Hoe sal hierdie Wet jou beskerm?
Dit is belangrik dat besighede wat met persoonlike inligting werk vroegtydig begin oorweging skenk aan hoe hierdie Wet hul sal affekteer en die stappe wat hul sal moet neem om te voldoen aan die Wet. Besighede sal spesifiek moet kyk na hul storingsmetodes en inligtingstegnologie prosedures rondom die hantering van persoonlike inligting.
Vir die verbruiker is daar nou nog ‘n wapen in die stryd teen ongeoorloofde kommunikasie en gebruik van jou persoonlike inligting en sal dit help om te verseker dat jy tyd aan jou werk kan spandeer en nie aan die hantering van ‘spam’ nie.
Get in touch with us to discuss how we can help you with your challenges